Blaaspootjies in makadamias

Okt 22, 2020

Makadamias loop gereeld deur onder ’n verskeidenheid plae. Blaaspootjies is een van die spesies wat skade aanrig. Wanneer blaaspootjies vreet, rasper hulle deur die buitelaag van epidermisselle van vrugte, blomme, en jong blaaruitloopsels. Die skade lyk tipies soos vlak littekens op die vrugte en manifesteer ook as droë blomme, “verbronsde” neute, asook misvormde, kleiner blare en blaar- en blomval.
Proewe in die Nelspruit-omgewing het gewys dat die verbronsing van die neute geensins die algehele kwaliteit van die neut beïnvloed nie. In teendeel, 100% verbronsde neute het dunner skille en doppe wat hoër kernherwinning verseker. Daar bestaan egter heelwat onduidelikheid oor die uitwerking wat sodanige blaaspootjie-geïnduseerde blaarval en -misvorming op die uiteindelike opbrengs het. In Kalifornia byvoorbeeld, toon sitrusbome ‘n merkwaardige verdraagsaamheid teenoor blaarskade alvorens noemenswaardige ekonomiese verlies volg. Dit wil voorkom of makadamias meer vatbaar is vir hierdie tipe skade, maar daar is nog nie genoeg studies gedoen om die kwantifisering van die blaaspootjiekompleks se skadepotensiaal te bepaal nie. Hierdie studies is nodig omdat die hoeveelheid geld en moeite wat aan blaaspootjiebeheer spandeer word veronderstel is om ‘n breukdeel te wees van die skade wat deur hierdie plaag veroorsaak word.
Die blaaspootjiekwessie is onlangs tydens ‘n sitting van die aksiekomitee gemoeid met insekdoderweerstandigheid (Insecticide Resistance Action Committee, of IRAC) bespreek. Daar is bevind dat talle Suid-Afrikaanse gewasse tydens die vorige seisoen dieselfde probleem ondervind het en daar is toe tot die slotsom gekom dat die probleem toegeskryf kan word aan die laaste dekade se toenemende hitte- en droogtetoestande. Wetenskaplike literatuur dui daarop dat hierdie insekte floreer tydens warm en droë toestande, en dat dit byna onmoontlik is om hierdie plae te beheer. Daarom is daar ook voorheen aanvaar dat algemene bestandheid, of ten minste die verlies in vatbaarheid teen geregistreerde insekdoders, nog nie plaasgevind het nie. Dit is belangrik om daarop te let dat die kort generasietydperk van hierdie insek daartoe lei dat baie generasies gedurende elke seisoen in makadamias kan ontwikkel en met aanhoudende blootstelling aan plaagdoders kan toekomstige plaagdoderweerstandigheid ontwikkel.
Wat weet ons oor hierdie insekte en hoe kan ons die blaaspootjiekwessie hanteer?
1) Blaaspootjies verkies om aan blomme te vreet. Baie blaaspootjiespesies wat tydens blomtyd op makadamias opgemerk word, is nie plae nie en vreet eintlik aan die stuifmeel en daarom word hulle as saprofiete beskou. Versuim om tydens blomtyd te bespuit, sal skade aan bestuiwers (bye) voorkom en ook kernset verbeter.
2) Blaaspootjies verkies om aan jong, sagte blaaruitloopsels te vreet. Indien die boord wintersnoei ondergaan het, word aanbeveel dat die nuwe uitgroeisels beskerm word, mits blaaspootjieskade waargeneem word. Hierdie bespuiting (net indien nodig), sal ook tot ‘n afname in fitofagiese blaaspootjies gedurende blomtyd lei.
3) Blaaspootjies word deur heldergeel en donkerblou kleure aangetrek. Kommersieelbeskikbare taaivalle kan gebruik word vir waarneming van blaaspootjiegetalle, maar ‘n mikroskoop en ‘n sekere graad van entomologiese kennis is nodig vir die positiewe identifisering van spesies.
4) Blaaspootjies is sleutelplae in talle gewasse, aangesien die kosmetiese skade wat hulle aanrig die bemarkbaarheid van die vrugte beïnvloed. Dis nie die geval met makadamias nie, maar breëspektrumprodukte moet liefs vermy word, omdat dit die huidige kwessie noemenswaardig sal vererger. Organofosfate en sintetiese piretroïede is uiteraard produkte wat vermy moet word.